ouerskap is huwelikbou

Wed 18 Aug 2010, 21:25        0 Comment(s)     Report Abuse
Elke huweliksmaat weet kinders het albei nodig. Mamma en Pappa, die rolle is minder belangrik, die daarwees en saamwees is wat saakmaak. Vir my, 'n kind uit 'n enkelouergesin, is dit verstommend hoeveel dit vat om deel te wees van 'n ouerpaar. Albei nodig, albei belangrik...al voel dit nie altyd so nie. Pa voel soms soos die autobank, ma voel soms soos almal se slaaf. In die span sien kinders dinge, hoe om te verbind met ander, hoe om te stry, hoe om hulle denke te vorm en hoe dit is om deel te wees van 'n span. Die span het die moeilikste en belangrikste taak in die heelal: die volgende geslag se welstand. As jy aleen die pad stap: RESPEKT!!! As jy soos ons ons weg vind: Respekt!!!! Mag jy nooit daai rol abdikeer nie, maak nie saak hoe moeilik dit raak nie.

Leave a comment on this post...

Topics:  respek   ouers   enkelouers   roeping  


die geluid van lag

Sat 24 Jul 2010, 22:24        2 Comment(s)     Report Abuse

My seun en my vrou lag in die kamer.  Hy is 6 maande oud en kraai van die lag.  Hy is deur 'n operasie toe hy 18 weke in die baarmoeder was, sy het die tekens om dit te wys.  'n Merk, 'n litteteken.  Ons noem dit haar liefdesuitroepteken in ons liefdesverhaal.  Sy naam is Sifiso, Juan Sifiso.  God se genade en ons geskenk.  Sy hierwees het sy ma lewe geskenk, en ons 'n lewe geskenk.

Dis goed om pa te wees.  Om 'n dogtertjie te hê wat sê: "Ek lief pappa baie."  Om 'n seun te hê wat straal as ek na hom kyk.  Om 'n vrou te hê wat vir haar seun leer hy moet soos sy pa wees; dan is hy 'n goeie man, en vir haar dogter leer sy moet bid vir 'n man soos haar pa.  Want ek is nie so nie, nie soos my vrou en my dogter glo nie, en soos my seun gaan droom nie.  Ek is net ek, maar hulle liefde maak my meer.  Dit laat my 1 sentimeter regopper stap, een minuut langer uithou, een leeftyd beter beleef.  Dankie julle dat julle die Here se droom vir my wakker maak!

Leave a comment on this post...

Topics:  pa   dogter   seun   ma  


die swembad

Tue 30 Mar 2010, 15:30        0 Comment(s)     Report Abuse

En toe gebeur dit.  Die hond het deur die swembadnet gekou, so ek het dit verwyder.  Die mense wat die heining Vrydag sou kom insit het nie opgedaag nie.  En Sondag ry my dogtertjie met haar fiets in die swembad in.  Altwee ouers vlieg weg met ylingswekkende spoed.  Ek sit eers my seun neer, so my vrou gly op die water in die kombuis, val, en vlieg op in een beweging.  Teen die tyd wat sy halfpad oor die gras gehardloop het trek my dogtertjie haarself uit aan die diep kant en merk op:  "Cala koppie ondelwatel swem!"  Sedertdien het sy al 'n paar keer hoopvol opgemerk:  "Cala ondelwatel fietsie ly!"

Die les:  Laat julle kinders swemlesse neem!  Sy het van haar fiets afgeval in die water, self omgedraai, en toe self uit die swembad geklim.  O ja, omhein julle swembaddens - met die wete, daar is altyd erens 'n onomheinde swembad.

Leave a comment on this post...

Topics:  swem   skrik   lesse  


Die eerste glimlag

Sun 28 Mar 2010, 11:58        3 Comment(s)     Report Abuse

Juan het gistermiddag geglimlag.  Volgens sy ontwikkelings mylpale is hy min of meer betyds, miskien n bietjie vroeg.  Volgens die sielkundiges behoort dit nie verwar te word met 'rerige' emosie nie.  Volgens die antropoloë doen hy dit om te keer dat hy uitgegooi word uit die trop.  Vir sy ouers beteken dit dat die son opgaan en dat elke stukkie moeite en pyn sover die moeite werd was.  Pappa gesels nou met hom, en mamma is verstom oor haar liefde vir hom.  En sussie begin al meer besef hier is kompetisie.  So groei ons al vier en leer ons die lesse van grootword!

Leave a comment on this post...

Topics: 


Van steke en skok

Tue 23 Mar 2010, 13:45        0 Comment(s)     Report Abuse

Saterdagoggend het ek saam met my dogter deur n koffiewinkel gestap.  Daar was 'n hoop teels en toe sy verby die teels stap hak die bokant van haar voet by die enkelvou aan een van die teels en dit skeur 'n winkelhak uit haar voet.  Baie bloed (hare), groot skok (myne) en drie steke later, het ek 'n paar lesse geleer. 

  • Kinders voel veilig by hulle ouers, mits hulle ouers hulle geliefd laat voel. 
  • Kinders vertrou ouers as die 'kenners' op die gebied van die lewe, en aanvaar ons weergawe van die werklikheid. 
  • Kinders sal dokters toelaat om inspuitings te gee, en 'sterrietjies' in hulle voete te sit as ouers eerlik verduidelik wat voorlê; eerlikheid is altyd beter as jok.  (die oom gaan jou bietjie meer eina maak, en dan gaan jy baie beter voel)
  • Kinders leer elke dag om ons meer of minder te vertrou, hoe ons reageer onder druk, wys vir hulle ons vlak van betroubaarheid.
  • Dogtertjies kan 'n groterige man se keel heel toedruk as hulle baie baie styf vashou!

Haar voetjie is reg, sy hardloop onverpoosd voort en haar ouers is verlig.

Leave a comment on this post...

Topics:  sekuriteit; liefde; vertroue  


Kindwees pret

Tue 2 Feb 2010, 17:28        2 Comment(s)     Report Abuse

Ek sit en kyk uit oor ons tuin.  Vandag was woes.  Werk, dogtertjie se swem, seun se bloedtoetse, inkopies, voorberei vir volgende 2 dae van werk by 'n kliënt, my vrou versorg, ens ens ens.  Maar ek kan glimlag.  My dogtertjie hardloop op en af, heen en weer met net 'n doek oor die grasperk, met ons Weimeraner hond wat haar soos 'n skadu agtervolg.  Hy is gereed, om soos in die verlede ons te kom roep as sy erens in die tuin seerkry of vassit.  Sy moes eintlik al gaan bad het, die aandroetines moes al hulle loop begin neem het.  Vir hierdie gesig is ek bereid om bietjie later te gaan slaap, en bietjie langer te sukkel om haar in die bad te kry.  Sy hardloop, lag, speel speletjies met haar opmaak-maatjies en haar hond, kom loer so nou en dan in, en is net heelmal kind.  Die reuk van die komposhoop gaan haar vooruit wanneer sy vinnig 'n slukkie water kom neem.  Ons is soms so besig, ge-organiseerd, en super-ouers, dat ons ons kinders regimenteer in klein bedrukte presteerdertjies in, eerder as om hulle te laat wees wat hulle kan wees, en hulle toe te laat om hulle volle potensiaal te laat bereik - om totaal en al kind te word!

Leave a comment on this post...

Topics:  kindwees   speel   hardloop   vuil  


Ouers en magteloosheid

Mon 1 Feb 2010, 20:04        3 Comment(s)     Report Abuse

Ek gaan nie baie meer as een maal per dag blog nie.  Ek staan nou-nou voor my seuntjie wat 60 uur oud is en hy is besig met foto-terapie.  Ons is ongelooflik geseënd, hy mag dit by die huis ontvang, ons huur die eenheid, so ons hoef nie hospitaal toe te trek nie.  Maar dis nog steeds ongelooflik moeilik om na hom te kyk waar hy lê, en hom nie mag op te tel nie, en hom nie mag te troos nie.  Die gevoelens van magteloosheid spoel deur my en sy ma.  Kinders is jou hart wat buite jou lyf rondloop.  Liefde is die dissipline om jou kind te lief te hê om vir hulle te gee wat hulle wil hê en wat jy nodig het, 'n drukkie.  Soms is ouerliefde hard, lyk dit gevoeloos, en verniel dit die ouer!

Leave a comment on this post...

Topics:  magteloos   liefde  


Pa van twee

Mon 1 Feb 2010, 09:58        1 Comment(s)     Report Abuse

Juan is Saterdagoggend gebore, soos babas geneig is, in die nag.  Dit was wonderlik om deel te wees van die proses, hy is in water gebore en my vrou (een van die beste ma's wat ek ken) het sonder pynstillers deur die proses gegaan.  Dit was asemrowend om dit te beleef! 

Ons dogter is nou twee jaar, drie maande oud.  Sy is nou op die ouderdom waar sy haar wil wil laat geld, en as sy nie haar sin kry nie, haar misnoë duidelik te kenne gee.  Haar taktiek is om op die grond neer te val en haar hakke op die grond te skop.  As sy genoeg emosie beleef het sy al op stadiums opgegooi van onsteltenis, en dit oor iets so eenvoudig soos dat sy nie 'n trui wil dra nie.  Enige uitdrukking van irritasie van haar ouers se kant af moedig haar aan om net nog harder en meer aanhoudend te skreeu.  Ek kan natuurlik duidelik in my kop die advies hoor van baie van my vriende en hulle ouers, kort en tot die punt af:  "Voeter haar!"  Ek is egter nie oortuig dat dit die beste benadering is nie.  Ander advies wissel van die een kant van die spektrum:  "Vermy konfrontasie, gee haar wat sy wil hê," tot by:  "Ignoreer haar, dis 'n fase."

Een van die mees basiese waardes wat ek wil handhaaf as ouer so ver as moontlik is konsekwentheid.  Ek sal graag 'n benadering wil gebruik wat ek oral kan gebruik, of dit Woolworths, die kerk of ons huis is.  Op die stadium, is my benadering situasie gebonde.  Ek ignoreer meesal, redeneer soms, tel haar op en dra haar uit die situasie in die openbaar, en op een of twee geleenthede (tot my skaamte) het ek my humeur verloor en op haar geskreeu.  Elke kind is sekerlik ook anders.  Wat my dogter aanbetref is die een ding wat ek wil regkry, om nie haar tantrums te beloon nie.  My opinie is dat enige aandag, selfs negatiewe aandag, as't ware 'n tipe beloning is vir die gedrag. 

Ek sou baie graag julle opinie wil hoor.  Lekker dag!

Leave a comment on this post...

Topics:  tantrum   pak slae   aandag   konsekwentheid  


Redes om 'ja' te antwoord

Fri 29 Jan 2010, 10:15        0 Comment(s)     Report Abuse

Ek het so paar jaar terug met 'n ouer gepraat wat drie wonderlike jongmense grootgemaak het en vir hom gevra wat die beste ouer-raad is wat hy ooit ontvang het.  Sonder huiwering het hy geantwoord:  "Soek redes om ja te sê.  Moenie nee sê omdat jy moeg is of nie meer kans sien nie.  Vind redes vir ja, en as jy om een of ander rede nie ja kan antwoord nie, dan is dit baie makliker om nee te sê." 

Daar is baie raad oor sg positiewe ouerskap.  Positiewe ouerskap begin by 'n 'ja-houding.'  Nie ja vir al die goed wat jy wil hê nie, maar ja vir jou my kind, vir tyd, vir aandag, vir 'n bietjie speel.  Ons wat ouers is, weet nee is makliker en eenvoudiger.  Ons weet ja vat baie meer energie as nee, en in die werklikheid van elke dag is ons batterye soms maar laag. Kom ons probeer die naweek 'n ja-naweek maak, en kyk of iets verander.

 

Miskien het jy raad wat jy kan deel oor hoe om die ja-houding te behou.  Deel dit asseblief met ons, ek sal baie graag van julle wil hoor en leer. 

Leave a comment on this post...

Topics:  ja   positiewe ouerskap   raad  


Ouers en liefde

Thu 28 Jan 2010, 21:07        2 Comment(s)     Report Abuse

Die een vraag wat ons almal gedurig vra is:  "Is ek goed genoeg om lief te hê?"  Die rede vir die vraag is dat oral waar ons gaan ons hoor ons is net-net nie goed genoeg nie.  Die beste beskerming teen die konstante manipulasie van die wereld is ouers wat konsekwent liefde gee, wys, praat en doen.  Dit is verseker nie maklik nie, maar as ons dit kan regkry, panster ons ons kinders teen die sirene lied van verbruikersliefde.  In die geloofstradisie waaraan ek behoort doop ons babas, en in die doop glo ons God sê:  "Jy is Myne.  My liefde sal jou oral agtervolg, maak nie saak hoe ver jy weghardloop nie.  Niks wat jy kan doen sal My jou meer of minder laat liefhê nie!"  Ouers se roeping is om hierdie boodskap te herhaal en te versterk...altyd!

Leave a comment on this post...

Topics:  liefde   onvoorwaardelik   doop  


Redes vir die blog

Thu 28 Jan 2010, 20:51        0 Comment(s)     Report Abuse

Hello julle

Ek gaan op die blog raad neerskryf, hulp aanvra, en sommer net oor ouerskap gesels.  Ek het 'n 27 maand oue dogter en my seun word enige oomblik nou gebore.  Ek was ook betrokke by jeugbediening die afgelope 15 jaar, en het twee tieners (tydelik) self grootgemaak.  Met ander woorde, ek weet genoeg om te weet ek weet nie!

Elke post gaan in een minuut kan lees, as jy kan lees :-).  Ouers, rerige ouers, het nie eers 'n minuut nie, so, ek hoop jy sal kan iets van nut lees en miskien meer belangrik, iets van nut bydrae.  Lekker lees en deelneem.

Leave a comment on this post...

Topics: 


Tools

Help!

User Profile

ouer minuut

Gender: Male Send Message Send Message
City: JHB Add to Friends Add to friends
Country: South Africa Block Block user

Stats

Afrigator Rank

Views: 759
Comment(s): 13
Rating:
Get in-depth stats on your blog and see where you rank on 24.com and in the whole of SA. Click here to activate.

Subscribe to this blog

Subscribe to email updates from this blog

Subscribe to RSS updates from this blog

Invite

You have 2 subscriber(s)

Badges

(0)

Fans

(0)

Blog Roll

Recently Updated Blogs

dugidug Dr Eva Brouhaha Superdude CasperCV CasperCV
Sparkle Sparkle & Co Zyling thro... VZ Tin Dog Tin Dog

Archive

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec